Inwoners Knip Pezula se Draad by Noetzie-Trappe

Noetzie protest against Pezula 2006Sowat 400 mense het gister deelgeneem aan ’n protesoptog om hul misnoeë te kenne te gee oor die sluiting van die historiese toegang tot Noetzie-strand.

Omgekrapte inwoners, lede van die vissersgemeenskap, Rastafariërs van Judas Square wat die strand dikwels gebruik, en lede van die Guardians of the Garden Route (Gog) het gister omstreeks 10:00 oor die strand gestap tot waar Pezula, ’n luukse gholfontwikkeling-maatskappy, ’n versperring van skadudoek en draad opgerig het, het Wendy Dewberry, ’n ontstoke inwoner, gister gesê.Volgens Dewberry is die optog gelei deur me. Peggy North (75), ’n bekende kunstenaar van Kaapstad, “wat haar kinderdae op en af op dié trappies (by die strand) deurgebring het”.

Julie Gosling, ’n direkte afstammeling van George Rex, het die draadversperring met ’n tang afgeknip en die groep is na Pezula se hekke, waar die wagte vir hulle toegang verleen het, het Dewberry bygevoeg. Gosling het blykbaar op eie koste regsadvies ingewin oor die gemeenskap se regte. Daar gaan namens die gemeenskap ’n spoliasie-aansoek gebring word omdat Pezula eie reg gebruik het toe hulle die trap gesluit het, het dié regsverteenwoordiger gesê.“Die optog was rustig en kalm. Ons het met niemand van Pezula se bestuur gepraat nie, en daar is nie ’n brief of memorandum met griewe oorhandig nie,” het Dewberry gesê.“Ek het dit nie teen Pezula nie, maar teen die munisipaliteit, wat toegelaat het dat Pezula die trappe toemaak.”

Mnr. Gary Muller, bestuurder van bemarking- en sportfasiliteite van Pezula, wou nie kommentaar lewer nie.“Pezula wil in hierdie stadium niks sê nie.”Hy het beloof om later in die week te reageer op skriftelike navrae.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.